So het ek God se besoek beleef

Tydens die Dag van Gebed van Calfaria Baptise Gemeente te Llangeinor, geleë aan die voet van die eens suksesvolle steenkool-produserende Garw Vallei, op 24 Maart het mnr. Vernon Chilcott die volgende uittreksels uit ’n dagboek van sy skoonpa, gehou gedurende die 1904-05 Herlewing, aan die gemeente voorgelees:

Tydens die Herlewing het my skoonpa, oorlede mnr. Jenkin Thomas van Llangeinor, in ’n administratiewe hoedanigheid by die Ffaldau steenkoolmyn, Pontycymmer gewerk (soos die myne in die Garw Vallei is dit ongelukkig nou ook al gesluit). Op 21-jarige ouderdom het hy ’n bestuurslid van die Walliese Baptiste Kerk in Tylagwyn geword. Om in die geestelike behoeftes van die nie-Wallies sprekende gemeenskap in die nuut geboude woonbuurt te voorsien, het die kerk die Calfaria gemeente in 1924 in Llangeinor gestig. Tot sy afsterwe in sy sewe-en-tagtigste jaar, was hy getrou in diens van beide gemeentes.

Die twee gemeentes was omtrent ’n driekwart myl uit mekaar. Tot in 1969 het hulle as een gemeente gefunksioneer voor daar op onafhanklikheid besluit is, maar elkeen het die ander in Christelike liefde gerespekteer en gebid dat God se hand van seën op elkeen mag rus.

Hier is van die uittreksels uit die dagboek. Dit word voorgelê met die gebed dat ons ook eendag op soortgelyke wyse in ons dagboeke kan neerskryf wat die Here onder ons gedoen het.

Donderdag 17 November 1904

Ek het saam met ander na die Herlewingsbyeenkoms in Pontycymmer gegaan. As ek al ooit gevoel het dat die hemel naby is, was dit by die byeenkoms waar dit gevoel het of een of ander onverklaarbare geesdrif op almal teenwoordig uitgestort is, wat veroorsaak het dat tientalle mense lofprysinge tot Sy Heilige Naam uitgeroep het. Almal by die byeenkoms was meegesleur en die werking van die Gees kon in sondaars gesien word deurdat hulle in berou uitgeroep het. Die byeenkoms het met vurige entoesiasme tot 2:15 vm. aangehou.

Vrydag 18 November

Ek was om 6:50 by die werk. Al het ek net drie ure rus gehad, het ek so opgewek soos ’n voëltjie gevoel. Maar dit was die moeite werd om ’n week se slaap te verloor, om die gevoel van Godvresenheid te ervaar wat ook by die Herlewingsbyeenkoms ervaar is. Ek het uitgesien na die einde van die werksdag, sodat ek na die byeenkoms by Pontycymmer kon gaan. Ek het ’n goeie sitplek op die gallery gehad en kon almal, buiten die mense wat onder die kant gallery waarop ek gesit het, sien. Ek het eerlik waar geglo dat die teenwoordigheid van die Gees vanaand nog meer ’n werklikheid was as gisteraand. Vir wie daar nie plek by die hoofbyeenkoms was nie, moes ’n aparte byeenkoms in die Tabernakel gehou word. Nadat die byeenkoms verdaag het, het die mense in die strate geloop en ’n beroep op al die dronkes in die kroeë gedoen om van die weë van die duiwel af te sien en by die weermag van die Kruis aan te sluit. Die byeenkoms het tot 3:30 vm. aangehou, maar ek het eers heelwat later huis toe gegaan. Die byeenkoms was ’n oneindige getuienis van die Gees wat krag gee aan almal wat Hom soek.

Saterdag 19 November

Ek was om 6:50 by die werk en het nie die invloed van te min slaap gevoel nie omdat dit verdwyn het in die lig van wat ek by die byeenkoms ervaar het. Ek is die aand na Pontycymmer. Die kerk was stampvol en ’n groot optog is gereël om teen 10:30 nm. na die kroeë te gaan. Sommige van die kroegbase het weerstand gebied aan die jong dames wat gepoog het om die mense te oortuig om Christus te volg. Ons is daarna terug na die kerk toe en ek het uiteindelik 5:00 vm. by die huis gekom om te gaan slaap.

Sondag 20 November

Dit was die beste byeenkoms wat nog ooit by Tylagwyn gehou is en dit het tot 9:40 nm. aangehou. Die enigste ding wat droefheid veroorsaak het, was dat ons dierbare predikant (Eerw. T.B. Phillips) nie teenwoordig was nie.

In latere jare het mnr. Thomas die gebeure van die byeenkoms in groter detail vertel as wat in sy dagboek aangeteken was. Omdat dit die begin van die uitbreek van Herlewing in Tylagwyn is, tree ek tussenin en brei uit oor wat daardie aand gebeur het.

’n Lidmaat wat ’n insinking in sy geloofslewe ervaar het, het by sy huis in Pontyrhyl voor die kaggel gesit toe hy skielik oorweldig is met ’n oortuiging dat hy onmiddellik na Tylagwyn moes gaan. Die aansporing was so dringend dat hy nie eers sy skoene aangetrek het nie. Tensy hy hom haas, sou die byeenkoms verby wees voor hy daar aankom.

In sy geweefde pantoffels het hy die myl tot by die kerk gedrafstap. Hy was verlig om te sien dat die ligte nog aan was, maar sy verligting het in ontsteltenis omgesit toe hy nader aan die kerk kom en die wysie van die laaste lofsang wat gesing word, hoor. Hy het nog ’n entjie gehad om te gaan en soos die innige gesange in die stil nag weerklink het, het hy gebid dat God die diens moet laat aanhou totdat hy daar kom.
Intussen het die gemeente, soos die gewoonte in daardie tyd was, reeds die laaste vers van die lofsang herhaal, maar hulle het onverklaarbaar gedwonge gevoel om aan te hou om dit te herhaal, oor en oor en oor. Skielik is die dubbeldeure by die ingang van die kerk oopgegooi. Die verdwaasde jong student van Cardiff kollege wat die diens gelei het en die ewe verdwaasde gemeente het die afvallige, verwaaid en hygend na sy asem, in die paadjie sien afstorm. Hy het hom in gebed neergewerp naby die steenkoolstofie en om God se vergiffenis gesmeek.

Die gemeente het toe besef waarom hulle onwillig was om op te hou sing. Die Heilige Gees het van hulle besit geneem - met perfekte tydsberekening.

In plaas daarvan dat die diens tot ’n einde gekom het, het die diens toe eintlik eers begin. Soos mnr. Thomas in sy dagboek geskryf het, “Ongeveer 20 het besluit om by die weermag van die Here aan te sluit,” voordat die diens geeïndig het.

Die afvallige lidmaat is tot sy eertydse gelowigheid vernuwe en het tot sy laaste dae ’n staatmaker in die kerk gebly. En mnr. Waldo Lewis, die student, het later ’n ingeseënde predikant geword.

Al die uittreksels wat volg het op Tylagwyn betrekking.

Maandag 21 November

By die werk het ek met David Job gepraat om vannaand kerk toe te kom en het tot God gebid om hom in sy hart te oortuig om te kom. Ek was teen 7:00 nm. in Tylagwyn en wie sou inkom, David Job! Ek het opgestaan en God geprys vir die gebedsverhoring deurdat hy vir die eerste keer in tien jaar na die kerk gekom het en het almal teenwoordig gevra om vir hom te bid, wat hulle gedoen het.

Mnr. Thomas het aangeteken dat die byeenkoms drie-en-’n-half uur geduur het en dat “sewe vir die eerste keer agtergebly het, insluitend David Job”. (Die uitdrukking “agtergebly” het beteken dat die persoon openlik sy geloof in Christus bely het.)

Dinsdag 22 November

Ek was teen 6:50 vm. by die werk en het daarna gesmag dat die tyd moes verbyvlieg sodat ek na die byeenkoms kon gaan. Ek was die aand van 7:30 tot 8:30 by David Williams se huis vir ’n biduurbyeenkoms. Daarna is ons almal na Tylagwyn en toe ons by die byeenkoms kom, was dit al in volle swang. Jong dames en mans wat nie daarvoor bekend is dat hulle ’n vers uit die Bybel sou opsê nie, het aan die byeenkoms deelgeneem asof hulle geheel en al daaraan gewoond is om dit te doen. Die byeenkoms het om 10.30 geeïndig en ses mense het agtergebly.

Woensdag 23 November

Ons het vanaand ’n pragtige byeenkoms gehad. Drie het agtergebly. Die enigste ding wat droefheid by die gemeentelede veroorsaak het, was dat ons dierbare predikant nie teenwoordig kon wees om deel te hê aan die goeie dinge wat ons elke aand ervaar het nie.

Uit die inskrywing van 25 November is dit duidelik dat enige sektariese versperrings wat op daardie stadium nog mag bestaan het, uit die weg gevee is, aangesien daar gestaan het dat dit ’n “baie goeie byeenkoms” was met Carmel (Kongregasionalisties), Pontyrhyl, Nasaret (Metodiste), Lluest en Tylagwyn (Baptiste).

Saterdag 26 November

Ons het vanaand ’n pragtige byeenkoms gehad. Dit het voorgekom asof almal gereed was om deel te neem en die gevolg was dat die byeenkoms in ’n goeie gesindheid gehou is. Twee het agtergebly.

Sondag 27 November

’n Sendeling van Indië, W.R. James, het vanaand die byeenkoms gelei en tien het agtergebly.

Maandag 28 November

Ons het vanaand weer ’n wonderlike byeenkoms gehad. Daar was goeie reaksie op mnr. T.C. Jones (’n Tylagwyn diaken en plaaslike onderwyser) se boodskap om onmiddellik die Gees te gehoorsaam. Dawid Job woon die biduurbyeenkomste getrou by.

Dit was duidelik dat die Herlewing geregverdigde belangstelling laat afneem of tweede plek laat inneem het. Die volgende is ’n bewys hiervan:

Woensdag 30 November

Daar is vanaand ’n konsert in Pontycymmer, maar die wie plekke bespreek het, het hulle die plesier ontsê in belang van bywoning van die biduur, iets wat ek verreweg die belangrikste van alle moontlike byeenkomste beskou. Daar was ’n opregte reaksie op die oproep van die Gees.

Mnr. Thomas het ook gesins- en huishoudelike inligting in sy dagboek opgeteken. Van gebeure in die gemeenskap is ook melding gemaak, soos uit die volgende inskrywing gesien kan word:


Dinsdag 20 Desember

Charlie Power is naby die steenkool-syspoor noodlottig beseer toe ’n paar waens oor hom gery het. Sy beserings was so erg dat die dokters niks vir hom kon gedoen het nie en om 8:10 nm. is hy met die woorde, “Bring my die ou, ou tyding” oorlede.

Ongelukkig was Eerw. T.B. Phillips, predikant van Tylagwyn, die afgelope paar weke siek en met sy terugkeer het hy reëlings getref dat die doop op Kersdag bedien kon word. Aangesien hy egter nog ver van gesond was, het hy besluit om die doop tot Donderdag 29 Desember uit te stel. By ’n byeenkoms op Vrydag 23 Desember is hy egter so aangespoor en versterk dat hy seker was dat hy die doop op Kersdag sou kon bedien soos aanvanklik beplan is. En hy het!

Sondag 25 Desember

Mnr. Phillips het sewe-en-twintig mense by die oggend- en aanddiens gedoop. Dit was ’n baie stil Kersfees. Daar is geen Kersliedere gesing nie en daar was ook niks van die vorige jare se luidrugtigheid nie.

In die 1905 dagboek van mnr. Thomas is voortgegaan met inskrywings soortgelyk aan die wat reeds aangehaal is.

By Saterdag 4 Februarie word wesenlike bewyse gevind van die dramaties veranderde gewoontes en belange van die mense van die Garw Vallei. Mnr. Thomas skryf van daardie dag, “Die Skots-Walliese internasionale wedstryd word vandag in Skotland gehou. Danksy die Herlewing het net ses van die Garw Vallei die wedstryd bygewoon.”

Alhoewel Evan Roberts nie na die Tylagwyn Kerk gekom het nie, was die Heilige Gees met mag en oortuiging teenwoordig. Die gevolg was dat 27 mense gedoop is en 18 is as lede hertoegelaat, wat ’n groottotaal van 45 vir een van die kleinste gemeentes in die Garw Vallei maak.

’n Dagboek van Herlewing soos gehou deur Mnr Jenkin Thomas en saamgestel deur Mnr Vernon Chilcott, Senior Diaken en Tesourier by die Calfaria Baptiste Gemeente, Llangeinor.

Druk E-pos