Het U Hom lief?

Written by Onbekend. Posted in Aanhalings

‘n Vername Japanse staatsman het eenmaal gesê: “Ons aanbid nie ons Keiser nie, maar ons het hom lief.” En daar was voorwaar genoegsame bewys van hierdie stelling.

Terwyl die Japanse leër voor Port Arhur opgestel was, het ‘n commandant om vrywilligers gevra wat bereid sou wees om die hakkiedraadversperrings van die vyand te gaan knip. “Julle sal nie weer terugkom nie,” het hy gesê; “Julle kan nie ‘n geweer saamdra nie, maar slegs ‘n tang neem, een of twee drade knip, en dan dood neerval voor die vyand se geweervuur. Ander sal julle plek inneem, nog een of twee drade knip, en sterwe. Maar julle sal weet dat oor julle dooie liggame die leërs van julle Keiser na oorwinning sal marsjeer.”

Hele leërafdelings het soos een man vir hierdie doodsending aangemeld.

Die Japanner wat hierdie verhaal vertel het, het veelseggend bygevoeg: “As julle Christene jul Here so lief gehad het soos ons ons Keiser het, sou julle lankal hierdie wêreld vir Hom ingeneem het.”

 

HOE LIEF HET U HOM?

Druk