Huil op die duiwel seskouer

Written by John Cross . Posted in Aanhalings

Selfbejammering is huil op die duiwel se skouer en die aaneem van troos van Satan. Onder die masker van ‘n engel van meegevoel roep hy die gegriefdes en verergdes, die mishandeldes en misnoegdes, en almal wat die geringste stukkie ontevredenheid het, na sy arms. Op sy breë skouer word hulle aangemoedig om te sug en knies, terwyl hy in hulle ore fluister dat hulle volkome geregtig is om te knies en te klae en vererg te wees. Hy het medelye met hulle vrese, troos hulle harte met gedagtes van nyd, jalousie, bitterheid en boosaardigheid, verskoon hulle van elke plig, ontbering en kruis, en steun hulle toegewing aan donker hartstogte.

Die rede waarom dit so moeilik is om die duiwel te herken en te weerstaan, is dat die meeste van sy suggesties presies is wat ons in elk geval graag wil doen. Hy gaan ons nooit teë nie. Ten einde vir die duiwel “Nee” te sê, moet ‘n mens vir jouself “Nee” sê, en dit is nie altyd maklik nie. Ons durf nie sy aangebode simpatie aanneem nie. Selfbejammering – huil op die duiwel se skouer – is ‘n uiters dodelike toegewing omdat dit morele terugtog en neerlaag bevorder.

Die plek om te huil is aan die voet van die Kruis van Christus. Daar huil ‘n mens nie in selfbejammering nie, maar in selfondersoek, of as dit nodig is, in berouvolle bekering, en altyd in oorgawe aan die wil van God. Dit is daar dat ‘n mens nie net blote simpatie vind nie, maar inligting, vergifnis, genade en krag om jou beproewings te bowe te kom. By die kruis word jy nie van die stryd onthef nie, maar jy word toegerus om deur te stry tot oorwinning! Daar, in plaas van oor jouself te huil, sal jou belange aan ‘n saak groter as jy self toegewy wees, en deur jou lewe te verloor, sal jy dit vind.

Druk