Herlewing begin met oordeel
“Die tyd is daar dat die oordeel MOET BEGIN by die huis van God” 1 Pet 4:17. Die geskiedenis van elke egtergeestelike herlewing bewys dat dit begin het toe die Heilige Gees die heerlike heiligheid van God aan sy kinders geopenbaar het, met die gevolg dat die heilige vrees van die Here hulle so aangegryp het dat hulle na hul knieë gedryf het in hartgrondige belydenis van geestelike louheid, biddeloosheid, gebrek aan evangelisasie-ywer en heiligheid van hart en lewenswandel!
As hulled an die krag van die reinigende bloed van die Here Jesus ondervind het, het die Heilige Gees hulle so aangevuur dat hulle op so ‘n wyse kon bid, preek en selfs opoffer, dat God se almagtige, transformerende krag deur hulle kon vloei na die mees goddelose persone, gemeenskappe en nasies en hulle totaal verander.
Wanneer geen belangrike saak op die spel is nie, word daar gebid slegs wanneer dit maklik en gerieflik is, sonder enige emosie, las of besef van verantwoordelikheid. Die duiwel vrees geensins kort gebede nie, en die Here moet Hom “verwonder dat daar iemand is wat in die bresse staan” vir u stad, dorp, kerk of familie nie (Jes 59:16). Ten spyte van die feit dat die eerste Kerk die wreedste en mees vasberade vervolging en teenstand denkbaar ondervind het van die kerk (die Jode) en die staat (Romeinse Ryk) en dat duisende der duisende Christene wreed gemartel en gedood is, het die Kerk verbasend gegroei, omdat ELKE gelowige ‘n evangelis was (Hand 8:1-4). God moet vandag sy volk oordeel, soos vir Israel van ouds, omdat ons “Sy heilige Naam onder die heidene ontheilig” het deur ons sonde-verskonende leerstellings en geestelike nederlaag wat daaruit voortvloei. Het ons sy heilige Naam ontheilig voor ons vriende, medewerkers en familie deur ‘n vertoning van selfsug, liggeraaktheid, ongeduld, kwaadpraat en onbetroubaarheid? Sal ons dan nie in hierdie krisisuur van afvalligheid en sonde, vir God vertrou vir volkome reiniging van ALLE ongeregtigheid en afgode en vir die verwydering van die kliphart van ongeloof en liefdeloosheid nie, en Hom vertrou vir die gawe van die Heilige Gees sodat ons in al sy insetting kan wandel en sy verordeninge kan onderhou, dan sal die nasies weet dat God die HERE is, “As EK MY IN julle voor hulle oë as die HEILIGE laat ken” (Es 36:23-27). DIT IS HERLEWING!